Boer van die Maand: Martli Slabber

Boer van die Maand: Martli Slabber

Die Boer van die Maand reeks fokus op gewone mense, hul boerderyondernemings, leefstyl en hul unieke uitdagings. Ons kyk ook na die groter gemeenskap en streek wat hul verteenwoordig asook die verskeidenheid in landboupraktyke in Suid-Afrika.

Martli Slabber

Martli Slabber

Ons boer van die maand vir November is Martli Slabber van Hexrivier Sitrus in die Citrusdal-vallei. Hexrivier plaas, en die bedryfsmaatskappy, word besit deur ‘n trust. Die vyf dogters van Dirk Visser, waarvan Martli een is, is trustees. Martli bestuur die Hexrivier Sitrus namens die trust, en twee mede-trustees dien saam met haar as direksie op die maatskappy. Hulle het ook ‘n 50% aandeel in Cape Mangoes, waar ‘n trustee as direkteur dien, en ander trustees hou ‘n oog oor hul beleggings. Die trustees is almal intelligente vroue met sterk persoonlikhede wat verskillende vaardighede na die tafel bring, wat help om checks en balances in besluitneming te behou.

Martli is getroud met Reinhardt Slabber en hulle het twee kinders, Dirk (20) en Andrea (17). Martli het ‘n Honeursgraad in Bestuur en Administrasie en ‘n Honeursgraad in Afrikaans en Nederlands aan Stellenbosch Universiteit verwerf.

Volgens Martli het sy heel onbepland in die landbou beland: Sy sou gaan backpack saam met ‘n maat, maar moes eers geld bymekaarskraap. So het sy vir ‘n paar maande in die plaaskantoor gewerk om rekenaarvaardig te raak – en is stuksgewys betrek om dienskontrakte te implementeer toe die Wet op Basiese Diensvoorwaardes die eerste keer uitgevaardig is, en om die plaasbegroting te help opstel. Toe raak die besigheid vir haar al hoe interessanter.

“Hexrivier Sitrus is gebaseer op ‘n familieplaas, met baie sentiment en familiegeskiedenis en besondere prestasies. Ek bestuur die sitrusplase, wat 150 ha lemoene, mandaryne en organiese suurlemoene behels. My susters is mede-trustees en –direkteure van die maatskappy en sy filiale, en het dus ‘n goeie begrip van die uitdagings en geleenthede wat die boerdery bied.

Die Dirk Vissers wat ons hier voorafgaan, het almal diep spore in die landbou getrap: die vestiging van die eerste sitrusboorde in plaas van wingerde (my oupagrootjie), ‘n waterkanon wat bome 30m ver kon natspuit (my oupa), die ontwikkeling van mikrospuite, outomatisering van besproeiingstelsels, en die uitbreiding van boerderybesigheid (my pa).” verduidelik Martli.The full article is for subscribed members only. To view the full article please subscribe. It’s FREE!Log In Register
[/membership]

Veranderinge aangebring

Die plaas is tevore hoofsaaklik konvensioneel bedryf, met fokus op oop hidroponiese drup-besproeiing, en geïntegreerde plaagbeheer. Martli se boerdery-filosofie het sedertdien sterk geskuif na regeneratiewe landbou, met gebruik van dekgewasse, biologiese beheermaatreels waar moontlik, en deurlopende kompostering.

Die boerdery is in 2010 deur dramatiese verandering – die besigheid is onderverdeel. Martli vertel, “Ons moes die ou familieplaas regruk, met ou boorde en wanbalanse in ons produk-verspreiding. Ons het heel eerste die maklike verbeteringe wat die grootste inkomsteverskille kon maak, aangepak, deur boorde met min bemarkingspotensiaal te verader na meer gesogte kultivars, ons besproeiingstelsels opgradeer na drupbesproeiing, siglyne ingesit waar dreinering nie goed was nie, en selfs 6 ha sitrus bome verplant waar die plantwydtes te nou was. Toe die inkomstestroom van hierdie verbeteringe inskop, kon ons begin met die vervanging van ou boorde. Ons het heelwat gedoen om ons produkte-mandjie te verander, van 95% lemoene (waarvan die oorgrote meerderheid Washington nawels), na ‘n gebalanseerde mandjie met 30% organiese sitrus, 30% mandaryne, en 40% konvensionele lemoene. Ons het sedertdien die boerdery uitgebrei met ‘n huur-eiendom, wat ten volle omgeskakel word na organiese verbouing.

Ons het ook heelwat gedoen om ons watersekuriteit en energie-koste te bestuur: ‘n kwart van die plaas se water word vroegsomer met gravitasie gedoen, en VSD’s is by al ons pompe geïnstalleer. Ons is, in hoogsomer, afhanklik van boorgatwater, en het addisionele boorgate ontwikkel sodat ons watervoorsiening beveilig is.

Sedert 2017 is ons self die uitvoerder van ons organiese produk. Dit help om in beheer te bly aangesien die logistiek vir organiese vrugte heelwat meer aandag verg: Vrugte moet so gou moontlik by die verbruiker kom.”

Diversifikasie

Die vernaamste diversifikasie op Hexrivier is die uitbreiding na organiese verbouing. Die organiese kategorie groei die afgelope paar jaar besonder goed, en dit dien as ‘n buffer teen ooraanbod, aangesien die toetree-drempel vir organiese verbouing heelwat hoër is as vir bv. nuwe variëteite. Martli speel ook rond met alternatiewe, en het die afgelope paar jaar loodsprojekte aangepak met losloop-hoenders, asook met beeste op hoë-druk beweiding (waar die trop daagliks na ‘n nuwe kampie geskuif word, en eers weer 12 weke later in dieselfde kamp terugkom). Die beginsels werk, maar Martli sê daar moet nog heelwat gebou word aan hul kennis indien dit in kommersiële geleenthede omskep wil word.

Waardetoevoeging

Martli maak gebruik van statiese (Johnson Su- bioreactor) kompostering van alle organiese afval op die plaas en erdwurmboerdery. Die effek daarvan is dat hul in die afgelope dekade geen kalium of fosfaat vir die organiese boorde hoef aan te koop nie.

Bestuur en bevordering van natuurlike hulpbronne

Vir Martli is die vernaamste natuurlike hulpbronne die grond, water, en biodiversiteit. Sy sê, “Met dekgewasse en minimumbewerking het ons daarin geslaag om die koolstof-inhoud van ons grond beduidend te vermeerder (in sommige boorde is daar ‘n verdubbeling van die koolstof-inhoud). Die effek hiervan is verhoogde waterhou- en katioon-uitruil-vermoeë. Ons vind ook dat, met winterdekgewasse wat in die winter koolstof sekwestreer en in die somer as deklaag dien, ons grondtemperature tot 5 ˚C koeler is. Bome hanteer droogte beter danksy beter voghouvermoë, minder soute en beter wortelontwikkeling. Ons dekgewasse is ‘n kombinasie van winter-graan, peulgewasse, en inheemse plante, om die mikrobiese lewe in die grond te optimeer. ‘n Newe-effek van al hierdie plantegroei is ‘n dramatiese toename van voëls, diere en voordelige insekte, dit voel ‘n bietjie soos ‘n wildtuin, party oggende.”

Bestuur en bevordering van voedselsekerheid en –veiligheid

Hexrivier Sitrus is FSMA (Food Safety Modernisation Act) en GlobalGAP- geakkrediteer. Martli se bestuurstrategie is om harde plaagdoders en swamdoders so ver moontlik te vermy, “Uiteraard is daar in ons organiese boorde geen gif nie, maar selfs in konvensionele boorde het ons die afgelope paar jaar selde enige gifresidue by oestyd, en dan gewoonlik minder as 50% van MRL (minimum residu- vlak). Aangesien ons dekgewasse plant in ons boorde, en die organiese boorde nie risiko dra van giftige spuitstowwe nie, skep dit geleenthede om die boordvloer produktief te benut. Ons het oor die afgelope tyd verskillende voedselplante op die boordvloer aangeplant, o.a. patat, heerbone, rocket, murgpampoentjies, en selfs die boorde laat bewei, met beeste en hoenders. Dit is slegs vir gebruik van die plaasgemeenskap – die kommersiële fokus is op die hoofgewas – sitrus – se grondverbetering.”

Sosiale verantwoordelikheid en trusteeskap

“Ons is baie trots op ons Platinum-status SIZA akkreditasie. (Sustainability Initiative of South Africa https://siza.co.za/about/the-siza-programme/ wat spesifiek fokus om etiese arbeidsverhoudinge)”, verduidelik Martli. “Ons benadering is om kommunikasiekanale tussen werkers en bestuur so eenvoudig as moontlik te hou, wat op ‘n kleinerige onderneming haalbaar is. Ons het 50 permanente werkers en ongeveer 90 seisoenwerkers. Ons maak nie gebruik van seisoens-kontrakteurs nie: die verhouding met van ons seisoenwerkers kom oor ‘n dekade of langer. Die meeste van hierdie werkers bly gedurende die plukseisoen op die plaas.

Ons nasorgsentrum word gefasiliteer deur Pebbles, en ons het, in samewerking met ons bure, Patrysberg, ‘n chreche wat ook onder die Pebbles- sambreel bestuur word. http://www.pebblesproject.co.za/

Van die inistiatiewe wat ons van stapel gestuur het, wat vir ons veral tydens die COVID-epidemie baie help, is:
Ons het 5 rekenaars en CAMI-sagteware https://cami.co.za/ geïnstalleer by ons nasorgsentrum. Kinders kon dus op rekenaars by die nasorg voortgaan met Wiskunde-, Wetenskap-, Afrikaans- en Engelse oefeninge, en hulle pluk nou die vrugte daarvan.
Gratis WiFI in die werkersgemeenskap, wat beteken dat mense makliker met hul familie in kontak kon bly en skoolkinders kon kommunikeer met onderwysers oor tuiswerk en dat ons as plaasspan inligting per Whatsapp kan deel (dit het baie gehelp toe ek en my man tegelyk vir 14 dae in kwartyn moes bly).”

Martli se resep vir sukses

  • Ondersteunende industrie: Die sitrusbedryf het besonderse intellektuele kapitaal in Citrus Research International, Citrus Bioscience en Citrus Growers Assosiation. Navorsings- en informasie- insette help om ‘n sterk band tussen die industrie en die Departement van Landbou te handhaaf, wat kritiek is vir sterk uitvoer-handel.
  • Navorsing: Daar is waardevolle hulpbronne beskikbaar op die internet, ek moes soms uit die boks dink om die bronne op te spoor, veral vir organiese boerdery.
  • Loodsprojekte: Ons toets voortdurende nuwe idees op klein skaal, en “upscale” as dit vir ons werk.
  • Uitkontraktering van nie-essentielse funksies: Die dokumentasie vir voldoening aan die verskillende akkreditasies en werksveiligheid is ontsettend baie, sodat mens kan verstrik raak in die papierwerk ten koste van die kritieke bestuursaksies wat nodig is om aan die beginsels van goeie arbeids- en verbouingspraktyke te voldoen. Ons maak gebruik van diensverskaffers wat spesialiseer in hierdie funksies. Ons gebruik Skyvines vir GlobalGAP en SIZA, en vir werksveiligheid het ons ‘n spesialis wat kwartaalliks ons deelname aan veiligheidsvergaderings en werksongelukke ondersoek.
  • Mentors: My pa, Dirk Visser, het my bitter baie geleer van bestuur, hoe om by ander mense kers op te steek, om langtermyn te dink, biodiversiteit te beskerm en hy het my vreeslik baie geleer van sitrus. Ons het ‘n besonderse span werknemers.
  • Reinhardt: Ek het ‘n besonderse huweliksmaat, wat my vlerke maak vlieg. Toe die plaas in 2010 onderverdeel, het hy die Gekko Backpackers Lodge wat hy tot stand gebring het, gesluit en my kom help om die boerdery te stabiliseer.
  • My mede-direkteure: Dit help baie om verantwoording te moet doen aan mede-direkteure wat my bevraagteken en my ondersteun, en ruimte laat vir eksperimentering. Ons benadering tot kapitaal-uitgawes is om te fokus op dinge wat die inkomstestroom van die onderneming verbeter, en dit te beveilig.
  • Geloof in myself: Die wonderlike voordeel van laat middeljare, is dat jy jou eie “gut instinct” begin vertrou. Miskien moet mens eers ‘n paar flaters begaan in mens se lewe, jou vrees vir mislukking kan oorkom, ten einde jou reik-wydte te verbreed. Raadgewers is raadgewers, nie sondebokke nie. Ek maak gebruik van kundige konsultante, en beskou hulle as klankborde en hulpbronne: hulle kan nie verantwoordelikheid neem vir die produktiwiteit en verliese van ons onderneming nie – indien ek dit van hulle verwag, forseer ek hulle om risiko-vermydende raad te gee. Veilig, maar ook net veilig. Dit kom maar terug na Stephen Covey: Die lokus van beheer moet by jouself lê.
  • God is met ons. Ek dink ons almal staan, soos Abraham by die brandende bos, op heilige grond. En eerder as om vas te kyk in ons status as kroon van die skepping, is dit ons verantwoordelikheid om na die heilige skepping om te sien.

Uitdagings

  • Sitrus is ‘n aankomende trein, nie ‘n lig aan die einde van die tonnel nie.
  • Water is skaars en word skaarser.
  • Die koolstof-voetspoor van besproeiingsboerdery is geweldig – en dis nie so maklik om besproeiingsinfratruktuur op alternatiewe energie te sit nie.
  • Gebrek aan bemagtigingsgeleenthede weens die plat struktuur, bly ‘n uitdaging vir familie-ondernemings.
  • Grondhervormingsinisiatiewe loop te stadig, en mense het min toegang, nie net tot boerderygrond nie, maar tot die landskap, wat vir almal belangrik is.
  • Daar is bitter min fito-sanitere beskerming op ons grense teen plantsiektes.

Toekomsplanne:

Dit is nog aan die kristaliseer – op een vlak is dit om ‘n slag tyd te maak vir ander prioriteite as boerdery: ons het die afgelope tien jaar hoofsaaklik gewerk. Nou is dit eers tyd om te sit en branders kyk: sodat ons nuwe krag het vir nuwe geleenthede.

Raad vir ander boere

Martli se raad aan ander boer is: Leer by ander mense, maar moenie ophou leer nie, en vertrou die kennis/gut feel wat jy in die proses self ontwikkel, bou jou grond vrugbaarheid en optimeer waterbestuur. Sy sluit af met raad wat sy elders raakgelees het: “Minder suksesvolle ondernemers se fokus is op uitgawes, suksesvolle ondernemers fokus om hul inkomste te vermeerder.”

Author

[printfriendly]

Please share this article with your friends!

Related Articles

All
  • All
  • Awards
  • Business
  • Crops
  • Education
  • Energy
  • Featured Article
  • Finance
  • Health
  • Hospitality
  • Human Resources
  • Irrigation
  • Latest News
  • Lifestyle
  • Livestock
  • Recipes
  • Soil
  • Under cover farming
  • Water
WordPress › Error

There has been a critical error on this website.

Learn more about debugging in WordPress.